If you wish to make a donation for Frisco’s food or medicine, please click here

 

 

 

FRISCO HET 21 GEWORD!

21 kat-jare = 100 mense-jare

Het ‘n kat nege lewens?  As ‘n mens bygelowig is, miskien.  Maar as gelowige, glo ek dis suiwer God’s-genade, goeie kos en baie liefde wat hierdie kietsie vir een-en-twintig jaar gedra het.

Ek het verskeie kere Frisco se lewens by my oë sien verby flits met elke noue ontkoming wat hy gehad het en daar was verseker meer as nege.

Die jaar: 2000.  Die gebeurtenis:  ons kry ‘n troeteldier by Vereeniging DBV, ‘n kat.

Hy was nie meer ‘n babakatjie nie, omtrent so vier maande oud en het alleen agter gesit, nie voor saam met die ander katjies waar hulle aandag gekry het nie.  ‘n Pragtige langhaar katjie, donker bruin en wit met groot, groen oë.  In die sonlig het sy bruin hare rooierig geskyn en dit het my laat dink aan die rooi-bruin kleur van Frisco poeierkoffie.  Vandaar sy naam.

Deur die jare was Frisco ‘n wonderlike metgesel deur my lewensreis.  In my hartseer oomblikke sou hy – ongeag waar hy in die erf was – as hy my hoor huil het, op die bed spring en sy pootjie op my wang sit totdat ek ophou huil.  Ons het ook baie lag-oomblikke saam gehad.  Benoude oomblikke en lui oomblikke ook.  Frisco is ‘n prater.  Hy hou van praat.  Dit was eers jare nadat ek hom gekry het, toe ‘n vriendin uitroep dat hy ‘n regte prater is omdat hy so baie miaau, dat ek dit besef het.  Ek het aanvanklik gedink hy is maar net ‘n raserige katjie, maar dit was sy manier om te kommunikeer.  Vandaar af, het ons land en sand gesels en begrip vir my katjie se kat-wees behoeftes het gegroei.  Hy is ‘n baie soet katjie met die mooiste maniere.  Nooit op die kombuiskaste gespring of sy toilet in die huis gemaak nie en hy het nooit my meubels gekrap nie.

Nou, 16 Februarie 2021 was dit een-en-twintig jaar sedert hierdie katjie gebore is.  Dit is die ekwivalent van ‘n 100 jarige omie.  Sy koppie is grys, sy ogies raak dof.  Hy is reeds doof en sy pootjies is soms baie seer van arthiritis.  Meeste van sy tandjies is getrek en hy sukkel so bietjie om op te staan vanweë rugprobleme.  Maar hy is nog sterk en grootliks onafhanklik wanneer dit kom by eet, toilet toe gaan en rondbeweeg.  Hy speel nie meer nie.  Nou en dan lyk dit of hy wil-wil speel wanneer ek probeer, maar sy ywer verdwyn net so vinnig soos wat dit opvlam.  Hy spin en praat ook al minder en wanneer hy doen is dit vir my so ‘n riem onder die hart.  Soms lyk hy effe verward en soms bespeur ek helder oomblikke in sy kat-gesiggie.

Waarmee hy wel hulp nodig het, is om te was en persoonlike kietie-higiëne toe te pas.  Hy kan nie meer oral bykom nie en is nie meer so buigsaam soos jare tevore nie.  Sy ore moet gereeld skoongemaak word en sy naels geknip word.  Daagliks word sy gesiggie en lyfie gewas met ‘n louwarm waslap en tandjies word geborsel – tot die beste van my vermoë – die wat nog oor is.

Na verlede jaar se grendelstaat, werk ek nie meer nie en is besigheid verskriklik stil, meeste mense kry swaar en dit raak al moeiliker om die mas op te kom.  Omdat Frisco so oud is, eet hy net spesiaal geformuleerde kos en probeer ek deurgaans vir hom homeopatiese produkte kry om sy lewer, niere en hart gesond te hou.  Indien enige een ‘n bydrae wil maak of meer wil weet oor Frisco, kan hulle my webblad besoek by www.galileeministry.co.za/frisco

Ek weet nie hoeveel tyd ek nog oorhet saam met my dierbare Frisco-kat nie, maar ek wil graag dit wat daar nog gaan wees, vir hom so goed en gemaklik probeer maak as wat ek kan.  Ek wil ook baie dankie sê aan almal wat reeds ondersteuning vir my en Frisco gegee het, spesifiek Frisco se peet-ma, Nikki B en ook Gary B asook Drie Riviere Dierekliniek en Driehoek Diere Hospitaal.

Skrywer:  Ruth Knox-MacBride

 

More pics, videos and the story in English to follow soon!

If you wish to make a donation for Frisco’s food or medicine, please click here